PORT ELIZABETH. Die snelveranderende tegnologie wat die alledaagse
lewe oorheers, het die Laerskool Verkenner hier laat besluit om 'n moderne rekenaarsentrum
vir sy leerders in te rig om hulle met die nodige vaardighede vir die tegnologiese eeu toe
te rus.
Mnr. Oosie Oosthuizen, skoolhoof, het gesê die sentrum is
ingerig ná 'n behoefte wat deur ouers en onderwysers ge¨dentifiseer is. "Ons het
reeds middel verlede jaar 'n komitee aangewys om die saak te ondersoek. Daar is toe
besluit dat dié lokaal in Januarie 2000 in gebruik geneem sal word.''
Verkenner het voorheen 'n lokaal met ses rekenaars gehad,
maar spog nou met 'n moderne rekenaarsentrum met 'n lêerbediener en 27 rekenaars wat aan
'n netwerk gekoppel is, asook twee drukkers en 'n skandeerder.
Volgens Oosthuizen sal die netwerk ook voorsiening maak
vir onder meer die skool se administratiewe stelsels. "Die doel van die nuwe sentrum
is om ons leerders toe te rus met vaardighede sodat hulle in die tegnologiese wêreld kan
funksioneer. Ons wil hulle bekwaam om die rekenaar as 'n instrument in die alledaagse lewe
te gebruik. "Alle leerders, van pre-primêr tot gr. 7, sal op 'n weeklikse basis
opleiding ontvang in onder meer programme soos Windows 98 en MS Office 2000, wat bestaan
uit MS Word, MS Excel, MS Power Point, MS Outlook, MS Access en MS Publisher. Opleiding
vir volwassenes word ook beplan.
Verkenner het 'n driejaarkontrak met Knowledge Network
onderteken. Die kontrak behels dat K-Net as kurrikulum-koördineerder vir dié
termyn sal optree.
K-Net is 'n Suid-Afrikaanse maatskappy wat in 1994
ontstaan het en lid is van die vereniging van Private Kolleges. Sy hoofkantoor is in
Pretoria en sal vir die volgende drie jaar op 'n maandelikse basis die skool besoek en
onderwysers verder oplei en die vordering van leerders monitor.
"Mej. Antoinette de Meillon is in beheer van die nuwe
ontwikkeling. Sy het 'n verdere diploma in rekenaargeletterdheid voltooi en met haar
aanvoeling vir die jeug is sy die ideale persoon vir die taak,'' het Oosthuizen gesê.
Volgens mnr. Gustav Gerber, rekenaarkonsultant en
opleidingsbeampte by RBS, voorsiener van die nuwe harde- en sagteware, beskik Verkenner
nou oor die modernste tegnologie beskikbaar. "Die moderne toerusting en verbintenis
met K-Net sal verseker dat leerders by Verkenner ten volle rekenaargeletterd sal wees
wanneer hulle die skool verlaat.''